Skryfkompetisie

Kom maak jou punt!

Kreatiewe hoërskoolleerlinge van regoor Suid-Afrika word genooi om aan ’n nuwe en opwindende skryfkompetisie deel te neem. Die Solidariteit Tydskrif Punt-liriekskryfkompetisie is daarop gemik om aan jongmense die geleentheid te gee om hulself kreatief in Afrikaans uit te druk en hul punt te maak.

Die tema van vanjaar se kompetisie “Basta! My voetspore is in Afrika”.

Suid-Afrika is ’n land vol geleenthede en moontlikhede en ons het ’n plek hier omdat ons voetspore reeds oor geslagte heen hier afgedruk is. Die jeug van Suid-Afrika moet uiteindelik ook met trots kan sê: ‘Suid-Afrika is ook my land’ en daar is geen beter manier om hierdie identiteit te vier as in Afrikaans nie.

Die twaalf beste lirieke sal deur die bekende liedjieskrywer Waldo Greeff (een van die wenners van die Huisgenoot/Tempo-skryfkompetisie) getoonset word. Dié snitte sal saam met die temalied van vanjaar se kompetisie, Basta, op ’n CD uitgereik word. Alle snitte sal deur Andries Hendrik Potgieter gesing word. ’n Aanloklike kontantprys van R5 000 is op die spel vir die algehele wenner.

Die tema van vanjaar se kompetisie is “Basta! Ons voetspore is in Afrika” en is gegrond op die gelyknamige boek deur dr. Dirk Hermann.

Die temalied van die kompetisie is uit hierdie boek saamgestel en is ’n nuttige bron om jou eie voetspore te help vind. Jy kan nou ook hierdie versamelstuk besit. Bestel die boek vandag nog deur vanjaar se Puntkompetisie vir slegs R80 en kry daarmee saam ’n nuttige stel wenke om ’n wenliedjie te skryf (saamgestel deur Waldo Greeff).

Stuur jou versoek vir die bestelling na punt@solidariteit.co.za waarna ’n agent jou sal kontak en die betaling van die boek sal hanteer. Sluit jou volle kontakbesonderhede (insluitende ’n selfoonnommer) by die versoek in.


Hoe werk dit?

  • Stuur jou inskrywing(s) voor 13 Mei 2011 na punt@solidariteit.co.za. Stuur ook die volgende inligting saam met jou inskrywing:
  • Jou volle naam en van.
  • Jou kontakbesonderhede (selfoonnommer, huistelefoonnommer, e-posadres en posadres).
  • Die naam en kontakbesonderhede van jou skool.
  • Die aantal inskrywings per deelnemer is onbeperk.

Reëls

  • Die Solidariteit Tydskrif Punt-liriekskryfkompetisie is oop vir alle hoërskoolleerlinge in al die provinsies van Suid-Afrika.
  • Die sluitingsdatum vir inskrywings is 13 Mei 2011 en geen laat inskrywaings sal aanvaar word nie.
  • Inskrywings is gratis.
  • Die beoordelaars se besluit is finaal.
  • Aanduidings van plagiaat in enige vorm sal tot die onmiddellike diskwalifikasie van die kandidaat lei.
  • Die tema van vanjaar se Punt-liriekskryfkompetisie is “Basta! My voetspore is in Afrika”.
  • Alle inskrywings moet in Afrikaans wees.
  • Lirieke wat ingeskryf word, word die eiendom van Solidariteit Tydskrif.

Laai af